Elections 2009

Elections 2009

Political Discussions for the 2009 Elections

Elections 2009 RSS Feed
 
 
 
 

Sterk leierskap!! Dit is wat SA nou nodig het

Dit is maar die begin van die aanloop tot die 2009 verkiesing maar die keuse van watter leiers en watter politieke party ons die volgende 5 jaar moet verteenwoordig, is nou reeds van kardinale belang. Ware leiers in SA is maar skaars; amper totaal afwesig.  Ons het heelwat politici, goeie politici, ja, mense wat weet hoe om politiek te speel in die politiek, maar ware leiers, aikona.

Die afgelope konvensie het dit weer bewys. Dis die ou retoriek – kritiek op jou politieke opponente en dan vae beloftes van beskerming van die grondwet en menseregte ens., ens.  Dan opgevolg met ‘n paar “Amandla”- en “Viva”-uitroepe om bietjie gees op te wek, want die boodskap het maar min om die lyf.  Baie soos in die ou dae van NP en KP politieke vergaderings se uitroepe van “Hoor, hoor” as jy saamstem en “ Skande, skande” as jou politieke opponent onder skoot kom van die spreker.  Van inspireer, verenig en vertroue skep is daar nie sprake van nie. Miskien het ons maar gewoond geword aan min.  Ek sal so graag wil opgewonde raak soos Rapport op sy voorblad uitbasuin “ HIER KOM ‘N DING”.  Maar ai, kan ons nie verras word met ‘n nuwe ding nie .  Iets wat ‘n “Obama element” bevat.  ‘n Man wat so pas verkies is tot die volgende President van die VSA met slegs ‘n 12 % Afro-Amerikaanse bevolking.  Kan ons leiers nie ‘n paar dinge uit sy resepteboek gaan haal nie?  Of jy ‘n Obama voorstander is of nie: die man kan inspireer.  Shilowa en ‘n Lekota het dit eenvoudig nie.  Hulle sukkel om hul  bitterheid teen hul  onlangse politieke tuiste weg te steek. Ek het gehoop dat daar ‘n paar potensiële leiers en sprekers te  voorskyn sal kom wat ‘n verskil sal kan maak en mense hoop kan gee. (Ek dink Hennie Smit – Bertie van Egoli – wat ook die konvensie uit nuuskierigheid bygewoon het, sou ‘n beter inspirerende spreker gewees het as enige van die ANC wegbrekers.)  Die hoop beskaam egter nog nie dat daar ‘n paar sterk leiers uit hulle geledere tevoorskyn sal kom nie.
 
Dat ons ‘n nuwe groepering nodig het om die ongesonde oormag van die ANC in die 2009 verkiesing te stuit is waar, maar alles staan of val by leierskap,  daarom sal die nuwe groep moet mooi kyk en soek daar tussen hulle wat kan lei en mense verenig en inspireer.

Leiers moet kan respek afdwing en waardes weerspieël waarmee ‘n volk hom met trots kan  vereenselwig. Mnr Zuma en sy leierskorps is nie daardie mense nie en daarom is ‘n splitsing in die ANC so welkom. Hierdie nuwe era van ‘n verdeelde ANC sal egter baie sterk leierskap vereis om te bestuur.  Ons demokrasie is nog jonk en dit is duidelik dat die Zuma-faksie nie almal verstaan wat dit beteken nie, en dat jy maar kan verskil.  Ons beweeg in ‘n baie delikate tyd in, waar as dit nie reg bestuur word nie, die verkiesing in konflik en geweld kan ontaard.  Wysheid sal nodig wees. Leiers wat hierdie verskille kan bestuur sodat demokrasie nie net in naam bestaan nie, is ‘n voorvereiste.  Die houding van baie van ons mense dat die ANC mekaar maar moet uitroei , so asof die ander dit maar net met genoegdoening kan gade slaan, is uiters naïef.  Die ANC bly die regering van die land en wat daar aangaan, het ‘n invloed op al die inwoners van die land.  Dis belangrik dat daar ekonomiese stabiliteit gehandhaaf word – veral nou met die wêreld se ekonomiese krisis waar SA, selfs met politieke stabiliteit, as ‘n risiko mark gesien word.

Die DA loop nou nie oor van sterk leiers nie, maar ek moet erken Helen Zille was ‘n uitsondering op die konvensie.  Eerstens het sy dit bygewoon, sonder voorbehoude, ‘n teken van iemand wat nie bedreig voel nie.  (Krediet ook aan die afsplitsers wat ander politieke partye genooi het.)  Sy het haar kans aangegryp en soveel vertroue ingeboesem by ‘n groep wat haar tradisioneel nie sou ondersteun nie.  Sy het een geword met hulle en ‘n gevoel geskep sy verstaan hulle. Sy gee die indruk sy is opreg en speel nie politiek nie.  Of Helen daarin sal slaag om in die verkiesing 2009 , ontevrede ANC-lede na die DA te trek is te betwyfel, of miskien is dit net te vroeg om te sê.  Ander politieke partye kan egter bekommerd wees oor die impak wat sy maak.  Dit is seker tyd dat sy nou die  Burgemeester-ketting van Kaapstad moet ophang. Sy moet in die parlement kom en gesien word as Nasionale leier en nie van ‘n streek of stad nie.  As daar nie eers een bekwame persoon is om haar posisie daar oor te neem nie, is die DA maar baie arm aan leiers.

Een voorbeeld van swak besluitneming is dié aan die kant van die Vryheidsfront Plus. Die besluit om nie eers die uitnodiging na die konvensie te aanvaar nie, sal seker deur hulle met ‘n paar goed uitgedinkte strategiese redes regverdig word.  Die feit is, ‘n gulde kans is daarmee heen.  Hier word ‘n platform geskep om jou boodskap uit te dra (direkte TV-dekking, met plaaslike en wêreldmedia teenwoordig om van te droom) maar jy sê nee dankie. Hoe kan mense jou boodskap hoor en beoordeel as jy nie eers daar is nie?  Hoe klein en irrelevant wil die party dan word en hoe ver wil hy hom dan isoleer van die werklikheid? Ek kan nie dink dat Pieter Mulder die besluit sou steun nie. Ek dink hy sou baie goed gevaar het.  Dis jammer, want so ‘n kans kom nie sommer weer voor die 2009 verkiesing nie.

Maar die konvensie was ‘n ideale afskop vir die 2009 verkiesing.  So ’n verskeidenheid van mense wat saam kom, gee my moed.  Hier lê interessante tye voor.  SA is nie ‘n vervelige plek nie.

Barend la Grange                                                                                                       Elections 2009

Share and Enjoy:
  • Digg
  • Sphinn
  • del.icio.us
  • Facebook
  • Mixx
  • Google

8 Responses to “Sterk leierskap!! Dit is wat SA nou nodig het”

  1. 1
    Pieter Claasen:

    Dankie Barend

    Ja dit bly maar ‘n moeilike taak om seker te maak die regte mense kom aan bewind. Ek dink ons politieke omstandighede maak dit so onaantreklik dat die regte mense nie gelok word nie. Ek dink meeste wit Afrikaner mense stel nie belang om in die politiek te wees nie want hulle weet van al die korruptheid en wil niks daarme te doen he nie. Ai dis jammer om te hoor Pieter Mulder was nie by die konvensie nie. Ek stem saam, dis ‘n wonderlike geleentheid om jouself te laar hoor. Sodoende wys jy die land dat jy belangstel.

  2. 2
    Karel Labuschagne:

    Ek is baie opgewonde om te sien wat die skeiding in die ANC sal bring. Dit maak die speel veld nou soveel meer gelyk. Nie dat mens skeiding tussen mense wil he nie maar ek moet eerlik wees ek dink dis ‘n gesonde ding wat hier gebeur het.

    Ja Barend ek dink ons land het so baie goeie leiers maar hulle is net nie in die politiek betrokke nie. Kyk net na ons sport. Daar het ons iemand soos John Smit in ons rugby. ‘n Fantastiese leier. Hansie was die beste krieket kaptein wat die wereld nog ooit gesien het. Ek dink hierdie skeiding in die ANC sal baie mense nou hoop gee en meer bereid wees om die politiek aan te vat. So sal ons werklike leiers in die politiek ook kry.

  3. 3
    Blackie de Swardt:

    n Lekker debatgeleentheid wat jy hier skep Barend.Sal fantasties wees as ons hierdie geleentheid kan gebruik om opinies van die publiek te kry wat aangestuur kan word aan politieke leiers om hulle te help ontwikkel tot leiers.Ek glo dat daar politici is wat graag wil verbeter maar nie altyd weet hoe om dit te doen nie. Daarom sal dit goed wees as bruikbare informasie geskep kan word om as prikkel vir hulle te kan dien.

  4. 4
    Estelle Smith:

    Ek stem saam oor die goeie leierskap wat ons nodig het, maar ek dink dat politieke bewustheid moet eers op groter skaal plaasvind,veral onder die vrouens en jongmense. Hoeveel mense stel net eenvoudig nie belang in die politiek nie . Helen Zille is ‘n fantastiese en inspirerende leier maar hoeveel mense is bereid om haar en die DA te ondersteun? Dit help nie om te wag vir utopia nie. Dit is hier en nou dat ons skouer aan die wiel moet sit en bereid moet wees om aan deure te klop en les bes om ook te ‘march’. Ek meen die groot ding gaan wees om mense by die stembus te kry OM TE STEM. Ek stel voor dat elke persoon net vyf ander persone kry en selfs help om by die swembus uit te kom en elkeen van daardie persone moet elkeen vyf persone kry om dieselfde te doen

  5. 5
    Barend La Grange:

    Hi Estelle , Ek is bly oor jou praktiese voorstelle. Ja dit gaan werk kos – dit gaan nie vanself kom nie . Dit is reeds verblydend dat daar soveel belangstelling die afgelope naweek was van mense wat gaan registreer het. As ons die momentum kan opbou oor die volgende paar maande gaan ons slaag om die jongmense en kiesers wat die afgelope 14 jaar op die kantlyn gesit weer by die stembus te kry . Veal die jongmense sal n ander tipe politiek wil sien wat hul verbeelding sal aangryp.

  6. 6
    Les:

    Dit is van absolute belang dat ons ons mense sal aanmoedig om deel te vorm van die proses . Tyd is verby dat ons net kan toekyk dat swak leiers ons land regeer . Vroue en jongmense gaan n meer belangrike rol speel . Ek glo dit. Daar is reeds n sterker bewuswording te bespeur

  7. 7
    Jesse van der Merwe:

    Ek soek ‘n eerlike, opregte leier. Ek hoop dat die COP dit vir ons sal oplewer, want ek dink die politiek in SA is ongelukkig steeds (weereens) baie rasgedrewe. Ons benodig ‘n politieke party wat ‘n goeie ondersteuningsbasis by alle rasgroepe kan kry en die leier MOET ‘n geloofwaardige leier wees!

  8. 8
    Elna Erasmus:

    Ek kan nie glo dat mense dink dat COP die uitweg is nie. Wag – laat ek voor begin. Die feit dat daar ‘n COP is, is wonderlik, want dit wys dat Suid-Afrika nie dieselfde pad loop as the res van Afrika nie. Die eenpartystaat blyk nou iets van die verlede te wees. MAAR – mense, COP is dieselfde mense wat ons in hierdie gemors gekry het. Dit is die Mbeki’s en die Lekota’s. Dieselfde Lekota wat in sy hele bewind as Minister van Verdediging net EEN KEER in die parlement kom verslag doen het oor sy departement omdat hy die hele wereld vol rondgerits het. Hallo – hy is net deel van die korrupte regering wat was en nou dink almal hy is die redder van die land. Kyk hoe lyk Gauteng – legacy of Mr Sam Shilowa. Kyk hoe lyk Kaapstad? Aha – daar gaan iets aan. Wat se dit vir ‘n mens – vergeet al hierdie klein partytjies en stem DA vir goeie regering.

    Connie Mulder se vandag op 702 dat al die klein partye is in gesprek oor “co-operation” before the election en “coalition after the election”. Dit maak sin.

Leave a Reply

Polls

Do Politicians Understand Economic Issues?

View Results

Loading ... Loading ...

Should Christians be involved in politics?

View Results

Loading ... Loading ...

Will Motlanthe Stay On As President After 2009?

View Results

Loading ... Loading ...

IEC

IEC

Parties

Tags